‘Breinanalise’ sorg vir Blits-sukses (Rapport artikel)

13 Jun

Die Blitsbokke Steven Hunt en Frankie Horne glimlag breed terwyl hulle die trofee omhoog hou wat Suid-Afrika verlede naweek in Skotland verower het nadat hulle Australië naelskraap in die eindstryd verslaan het. Foto: Ian Macnicol/ Getty Images

(Artikel deur: Marco Botha)

Superman was toe nooit, soos dit vir sommige mense op ’n afstand gelyk het, ’n vliegtuig of vogel nie. Maar dat eienskappe van iedere vlieënde voorwerp, asook die menslikheid van Clark Kent, bygedra het tot dié superheld se persona, is só.

Die Blitsbokke se onlangse welslae in die tweede helfte van die pas afgelope Wêreld-sewesreeks is ’n bietjie soos Superman – die kombinasie van uiteenlopende dinge wat nie in afsondering beskou kan word nie.

Dat die Blitsbokke ná ’n teleurstellende toernooi in Wellington in Februarie drie van die laaste vyf toernooie gewen het, is nie toevallig nie.

Die laaste twee was veral indrukwekkend. Die span het twee weke gelede in Londen die reuse-Fidjiane met ’n taktiese meesterskuif getroef. En verlede naweek in Edinburg het hulle Australië ná die toeter met ’n hartroerende terugvegpoging soos min in die stof gespeel.

In ’n onderhoud met Sport24 het die Blitsbok-breier, Paul Treu, sake die afgelope week só opgesom: “Ons sukses is bloot te danke aan ons vrymoedigheid om vir raad te vra. Of dit vir Rassie Erasmus, Maria Ramos of GT Ferreira is. As jy dít nie doen nie, stel jy sukses uit.”

Daarom is Treu, sy ganse bestuur en spelers gereeld in die teenwoordigheid van mense of instansies wat die span se prestasie op ’n manier ’n hupstoot kan gee.

Só was die dryfmaalbeweging waarmee die Bokke vir Fidji in Engeland geklop het die produk van breinprofiel-ontleding en taktiese aanpasbaarheid.

Saam met Kobus Neethling van die Suid-Afrikaanse Stigting vir Kreatiwiteit het Treu-hulle eers die Blitsbokke se manier van dink (leketaal vir breinprofiel) individueel uitgewerk en toe dié van hul vernaamste teenstanders.

Vertel Neethling: “Die Fidjiane gebruik byvoorbeeld ’n deel van die regterbrein wat hulle in baie ruimte laat floreer. Die teenvoeter sal dus wees om hul spasie in te perk.

“Die breinontleding was my bydrae. Paul en Rassie het toe ’n rugbytaktiek gekies wat daarby pas – ’n eenvoudige dryfmaal. Teen ’n gestruktureerde span soos Samoa geld die teenoorgestelde. Teen ’n byna volmaakte span soos Nieu-Seeland kyk jy watter sterk punt jy in ’n swak punt kan verander.

“Omdat jy weet hoe jou eie spelers individueel dink en wat hul sterk punte is, kies jy ’n span wat ’n presiese teenvoeter vir ’n spesifieke teenstander kan wees.”

Treu se rugbyfilosofie gaan dus oor baie meer as net rugby – en dis een wat sy spelers en ganse bestuur deel.

“Wat ons uit ons besoeke aan suksesvolle instansies en individue van oor die hele wêreld leer, is as daar vier raakpunte tussen vier verskillende sportsoorte en tien top-afrigters is, dit vir jou ’n aanduiding moet wees wat volhoubare sukses in jou eie omgewing kan skep.

“En die kern van dit alles is dinge wat jy nie noodwendig kan meet nie. Nie afstand, vaart óf ’n hartklop nie. En ons taktiese benadering, voorbereiding en filosofie vir sewesrugby is daarop geskoei. Om spanne te outfocus, te outmuscle, te outsmart en te outlast.

“Anders as met die tradisionele opvatting oor spansport, word daardie vier goed met die bestuur van individue bereik. As jy ’n individu in die regte rigting kan stuur, kan jy ’n span beweeg,” meen Treu.

Hy sê dieselfde beginsels geld ook vyftienman-rugby.

“Daarom dink ek die oorgangstyd vir my van sewes na vyftienmanrugby sal nie langer as ’n jaar wees nie. My fokus is wel om ’n sewesspan gereed te hê vir die Olimpiese kwalifiserende toernooi in 2014. En hoeveel afrigters is daar wat kan sê hulle het ’n span in die Olimpiese Spele afgerig?

“Intussen wil ek net aanhou leer en ’n beter afrigter word. Dit vat my soms na vyftienman-rugby, na besighede, na ander sporte en suksesvolle mense in die samelewing. Só kan jy werklik ’n verskil maak waar ook al jy betrokke is.

“Ek sal nooit nee sê om te help waar Suid-Afrikaanse rugby my wil gebruik nie. In die onmiddellike toekoms wil ek saam met my bestuur en spelers toesien dat ons suksesse van onlangs volhoubaar word,” sê Treu.

Advertisements

One Response to “‘Breinanalise’ sorg vir Blits-sukses (Rapport artikel)”

  1. Mr WordPress June 13, 2011 at 8:59 am #

    Hi, this is a comment.
    To delete a comment, just log in, and view the posts’ comments, there you will have the option to edit or delete them.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: